Die liefde...
Wat sal jy, mens, nou weet van die liefde af? Wanneer jy alles verloor het, en dat selfs die kleding aan jou lyf soos losse lappe hang, verskeurd en vuil...wanneer jy alleen maar nog 'n kombers om jou kinders kan toevou, om hulle van die weer te beskerm. Wanneer jou maag al vir dae met krampe gepynig word en jou tong wens vir net nog 'n bietjie vog. Of wat dink jy van die stukke papier in jou hand, waarmee jy jou goedere mee verpand en koop en dan nog hoop op 'n goeie toekoms?
Die hoop...
Waar was jy toe jou vrou en kinders honger gely het, en jy eers vir die soveelste keer na die volgende hoer gehardloop het, jou soveelste dop af gesluk het en jou laaste pennies vir jou verslawing gespaar het? In die donkerte, sonder enige energie of skoon water, moes jou kinders en jou vrou hulleself red, dis die ellende waarin jy hulle gelaat het. Watter hoop het jy, om ooit weer by die volgende vrou jou lê plek te maak en dieselfde aan haar te doen?
Waar was jy toe jou man vir jou gesorg het, terwyl jy weer jou jeug soos 'n jong meisie wou geniet het, in die arms van 'n vreemde man? Terwyl die kinders van jou baarmoeder, agter gelaat is, sonder 'n ma, sonder leiding of troos, en wie soos weeskinders hulle aan jou verlate man moes wend vir rigting. Watter hoop het jy, om ooit weer aan die volgende man jou naakte bene en arms te wys, vir net nog 'n moment van plesier omdat jou ego jou verdrink?
Die geloof...
Hoekom sal 'n dief glo en 'n ryk man dit beaam, maar die kind van God word daarvoor vermaan? Waar was jou geloof, toe jou broer die aaklige aanval oorleef het, en al wat jy wou sê was woorde van haat? Waar was jou geloof, toe jou sussie aan 'n gruwelike siekte na haar asem moes snak, en al wat jy wou doen was om verder met jou daaglikse sake te gaan? Waar was jou geloof, toe ons land se sondes tot op die horison gesien kon word, en al wat jy wou doen, dink en sê was verlange na nostalgie?
In 'n Kombers lê daar 'n droom, en die droom besit 'n geheim, en die geheim bevat alle drie: liefde, hoop en geloof, maar dis afgesonder en weg gestop...want daar is niemand waardig om hierdie kleed te dra nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking